My kind ken al die klanke, maar lees steeds stadig – hoekom gebeur dit?

Baie ouers voel verlig wanneer hul kind al die klanke goed kan onthou. Dit voel soos ’n groot mylpaal in leesontwikkeling. Maar dan kom die volgende uitdaging:

“My kind ken al die klanke, maar sy lees steeds baie stadig.”

As jy dit al ervaar het, is jy beslis nie alleen nie.

Klanke ken is net die eerste stap

Wanneer ’n kind klanke leer, bou hulle die fondasie van lees. Hulle leer byvoorbeeld dat b = /b/, a = /a/, t = /t/.

Maar lees is nie net om klanke te ken nie – dit is om daardie klanke vinnig en outomaties saam te voeg om woorde te vorm.

Dit is waar baie kinders vassteek.

Hoekom lees my kind stadig?

Daar is ’n paar algemene redes waarom ’n kind stadig kan lees, selfs al ken hulle al die klanke:

1. Klank-vir-klank lees bly vas
Die kind sê nog elke klank apart in plaas daarvan om dit saam te smelt tot ’n woord.

2. Te min oefening met vloeiende lees
Kinders het baie herhaling nodig om woorde vinnig en outomaties te herken.

3. Werkgeheue word oorlaai
Wanneer ’n kind te lank moet dink oor elke klank, verloor hulle die betekenis van die sin.

4. Woordherkenning is nog nie outomaties nie
Selfs al “ken” hulle die klanke, moet die brein nog elke keer werk om dit saam te sit.

Wat is die volgende stap?

Sodra klanke vas is, beweeg leesontwikkeling na ’n nuwe fase:
👉 blending (klanke saamvoeg)
👉 vloeiendheid
👉 outomatiese woordherkenning

Dit is waar lees begin “klik” en kinders minder moet dink oor elke individuele klank.

Baie ouers dink:
“As my kind al die klanke ken, moet lees maklik wees.”

Maar lees is ’n proses met verskillende lae. Klankkennis is net die begin – nie die eindpunt nie.

Wanneer om bekommerd te wees?

Dit is normaal dat kinders stadig begin. Maar as jou kind:

  • baie stadig bly lees oor ’n lang tydperk

  • elke woord nog klank-vir-klank sê

  • maklik moeg of gefrustreerd raak

…dan is dit ’n teken dat hulle ekstra ondersteuning nodig het om vloeiendheid te ontwikkel.

Laaste gedagte

Elke kind leer lees teen hul eie tempo, maar die regte ondersteuning op die regte stadium maak ’n groot verskil.

Sodra ons weet waar die “breekpunt” is in die leesproses, kan ons baie doelgerig help om lees weer makliker en meer selfvertrouend te maak.

Nie seker hoe om jou kind te help met lees nie?

Ek bied ’n gratis 15-minute Zoom gesprek aan waar ons saam kyk na:

• Waar jou kind in die leesproses vasbrand
• Wat die volgende praktiese stap is om hulle te help beweeg na meer vlot lees
• Of ekstra ondersteuning werklik nodig is, en hoe dit kan lyk

👉 Baie ouers voel onseker op hierdie stadium, en dit is heeltemal normaal. Jy hoef nie alleen te probeer uitfigure wat werk en wat nie.

As jy wil, kan ons saam duidelikheid kry oor die pad vorentoe.